
DIE HERSTEL VAN 'ALET,' TOUWSRIVIER SE EIE MINIATUUR-STOOMLOKOMOTIEF:
DIE MERKWAARDIGE RESTOURASIE VAN 'N VERGETE STUK BYKANSE SKROOTMETAAL TOT BLINK GEMEENSKAPSJUWEEL
Vriende,
Die verhaal van 'Alet' - Touwsrivier se Miniatuur-Stoomlokomotief - se merkwaardige restourasie van 'n vergete stuk bykanse skrootmetaal tot blink gemeenskapsjuweel is een van Breedevallei se hoogtepunte van vanjaar.
Hierdie merkwaardige reddingspoging is alles te danke aan die dinamiese Voorsitter van Touwsrivier Toerisme, Christiaan du Plessis en sy toegeweide bestuurspan van Touwsrivier Toerisme, tesame met vrywilligers vanuit die Touwsrivierse gemeenskap.
AGTERGROND
Die verhaal van 'Alet' - Touwsrivier se eie miniatuur-stoomlokomotief - is 'n verhaal wat eie aan Touwsrivier is en wat diep met die gemeenskap verbind is.
Die dorp Touwsrivier is in 1877 gestig, nadat die spoorlyn in daardie jaar die dorp bereik het. In 1977 het Touwsrivier dus sy 100-jarige bestaansjaar gevier. Aangesien die destydse Spoorwee iets besonders vir hierdie besondere mylpaal in die dorp se geskiedenis wou doen, het hulle toe in 1977 besluit om 'n klein miniatuur-stoomlokomotief, genaamd, 'Alet,' te bou wat as attraksie tydens die 100-Jarige Bestaansviering kon dien.




